Friday, August 24, 2012

Wonder-Vrede

'n Stormagtige maalkolk,
Dis wat binne lê!
Daar waar hart en siel
En verstand
Eens netjies gedefinieer was.

Ek wonder in my enigheid,
Maar durf nie vra nie...

So lank al smag my siel,
Hunker my hart
En soek my verstand
Na die stille samesyn
Van 'n ander

Nou's dit hier - tasbaar,
Maar die vraag bly ongehoor...

Twee identiteite raak verstrengel
Binne 'n enkele oomblik in tyd
En wonder waarheen.
Hoe lank? Hoe ver stap dié pad?
Tog is daar vrede - rus...

Maar die vraag durf nie vra nie!
Want wat as...

Friday, August 17, 2012

Hart in die hand

En hier staan ek nou
Weerloos
Hart in die hand 
Want jy laat my glimlag

Dit laat my bewend
Bang
Ek wil hardloop
Maar my voete voel 
asof in beton gegiet

Al wat nou oorbly is 
wag 
HoopGloEn ervaar...




Sweer

Twaalf jaar lank
vreet die maaiers van binne
Van vrot
Na vrotter
Tot vrotste!

Dan loop dit
Septies
en
Stinkend
Deur ons lewens!
Probeer te vergiftig!

En ek wonder-

Hoe voel my kind se hart?
Wat sy lewende pa
Vandag finaal
Begrawe het...